Header
Home / News / Events / Die Gariep Kunstefees sê Koebaai
Amphibic Design - Websites - Graphibic Design

Die Gariep Kunstefees sê Koebaai

Hierdie keer is dit nie tot weersiens nie, maar koebaai.
Die direksie van die Gariep Kunstefees het die moeilike besluit geneem om nie voort te gaan met dié jaarlikse skouspel van die kunste in Kimberley nie. Na agtien jaar se feeste kondig hulle die einde aan. 
Daar is agtien jaar se goeie feeste agter die rug en in daardie tyd het die Gariep Kunstefees eie aan elke inwoner, besoeker, uitstaller, kunstenaar en diensverskaffer geword. Wanneer die lamppale met die jaarlikse feesplakkaat versier word, die GariepGeite in al wat ‘n kafee en haarsalon is rondlê en die pretpark in die dorp aankom, dan weet jy – dis Garieptyd. 
Die Gariep Kunstefees was die inisiatief van drie waaghalse met ‘n passie vir die kunste: Theuns Zimmermann, Marius Nagel en Corné Thompson. In die jaar 2000 is Kimberley vir die eerste keer met dié kunste-skouspel bederf en jaarliks daarna het duisende besoekers van sover as Stellenbosch gekom om dit by te woon. Vir die organiserende komitee was dit nog altyd belangrik om nie net vermaak te verskaf nie, maar ook op te voed in en oor soveel moontlik genres van die kunste. Die fees was primêr, dog nie-uitsluitlik, in Afrikaans omdat die groter meerderheid van die inwoners in die Noord-Kaap Afrikaans is. Soos die komitee gegroei het, het baie gemeenskapsinisiatiewe ook daarby gebaat. Jaarliks is tot soveel as 600 tydelike werksgeleenthede geskep. Duisende kinders, bejaardes en gestremdes uit minderbevoorregte omstandighede het die fees gratis besoek en gedeel in die pret. Honderde jeugdiges het baat gevind by die gratis werkswinkels in drama, radio-aanbieding en skryfkuns. Liefdadigheidsinstansies soos Caritas, Cansa, die DBV, Reach For a Dream en vele meer het die geleentheid tot fondsinsameling gehad en die SANBS het jaarliks ook op feesbesoekers gesteun om bloed te skenk. Volgens ‘n toerisme-impakstudie deur die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein is in 2016 bevind dat plaaslike vulstasies en inkopiesentrums veral uit die fees gebaat het. Self het die fees ook byvoorbeeld in 2017 sowat R1.6 miljoen plaaslik aan dienste en produkte spandeer. Dit was waarlik nie net ‘n platform vir die kunste, plaaslik en nasionaal nie, maar ook ‘n ekonomiese en toerisme inspuiting soos min ander in die provinsie. 
As nie-winsgewende maatskappy het die fees op papier nooit sin gemaak nie, maar die passie was altyd groter as die risiko. Elke volgende fees was nog altyd nét die genade van Bo. Soos die land se ekonomie verswak het en befondsing al moeiliker geword het om te vind, het die uitdagings om ‘n hoë standaard te handhaaf al moeiliker geword en baie streng fiskale beheer was noodsaaklik. 
Die Gariepfees is jaarliks deur mense van alle kleure, rasse en tale besoek en geniet. Dis een van die dinge wat die fees juis so uniek gemaak het, dat daar iets vir almal was en bygedra het tot nasiebou. So sou jy byvoorbeeld kry dat ‘n swart man uit volle bors saam met Theuns Jordaan ‘Soos bloed’ sing en jy sou hoendervleis kry wanneer die Broers en die Bala Brothers die ‘Click click song’ sing en die gemengde gehoor skouer-aan-skouer saamsing. Nou gaan die son oor hierdie juweel van Kimberley sak, maar die organiserende komitee stap in waarheid en met waardigheid weg van agtien suksesvolle feeste ten spyte van vele uitdagings. 
Volgens die huidige Uitvoerende Bestuurder van die Gariep Kunstefees, Bernice Versluis, was dit ‘n moeilike, maar nodige besluit. Na soveel feesvreugdes weet hulle hulle het in die stigtingsdoel van die Gariep Kunstefees geslaag. Daar is soveel om voor dankbaar te wees. Hulle stap met vreugde en vrede weg.
Feesentoesiaste kan steeds uitsien na ‘n feestelike afskeidskonsert later vanjaar, hou dus die media dop. 
Vir diegene wat altyd die fees verdedig het, ondersteun het, geborg het en saam met ons gedeel het in die vreugde daarvan – baie dankie. Vir die wat help werk het, baie selfs sonder vergoeding – ons sal nooit na waarde vir julle kan dankie sê nie. Vir die wat meestal oningelig was, maar steeds hulle stemme wou laat hoor – jammer ons kon nie aan julle verwagtinge voldoen nie. 
Die wonderlike bly steeds hoe die Skepper nog altyd voorsien het en selfs nou uitkoms gebring het en ‘n pad gemaak het vir die Gariep Kunstefees om ‘n nalatenskap van die kunste aan Kimberley te gee wanneer die deure vir oulaas sluit. Alle eer aan ons Hemelse Vader vir Sy genade, die passie wat Hy ons gegee het, Sy voorsiening, ons deursettingsvermoë en Sy goedheid wat ons in staat gestel het om goed te kon wees vir soveel ander. Gariepgroete… vir oulaas.

 

[urlpreviewbox url=”https://www.netwerk24.com/Nuus/Politiek/einde-van-gariepfees-dis-te-wit-en-afrikaans-20180122″/]

Aeon Computer Kimberley

About Webmaster

x

Check Also

Gariepfees 2015 – Sommer lekker kos, kuns en pret!

Informasie  oor  die Kosmark, Kunsmark en Pretpark. Vanjaar vier ons die Gariep ...

Depo 25 Bonus 25

Depo 25 Bonus 25